top of page
Search

Tips om geld te spaar.

  • Writer: Nadia Muller
    Nadia Muller
  • Apr 27, 2020
  • 3 min read

Jesus praat in Markus 10 met ‘n ryk jongman en dan sê vers 21: “Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: ‘Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes. En jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg my!’”

Hierdie vers laat my altyd ongemaklik op my stoel rondskuif. Wat bedoel Jesus nou eintlik? Ek is van mening dat dit hier gaan oor wat vir jou belangrik is, meer as dat dit gaan oor geld self. Vir die ryk jongman was sy besittings belangriker as om vir Jesus te volg.

So om jou Finansies te bestuur en te probeer spaar is nie verkeerd nie, tensy jy obsessief raak en dit belangriker raak as jou getrouheid aan God.

Hierdie post is dus om jou idees te gee hoe om te spaar, maar ook ‘n oproep om vir God beheer te gee en te vertrou.

Jy gaan heel moontlik niks nuuts leer nie, maar dit is goed om so af-en-toe net weer stil te staan en te dink oor hoe ons geld uitgee.

1. Algemeen

-Begin met ‘n verkleinde begroting.

-Sit geld eenkant om vir God se werk te gee, of dit vir kerk of sending of iemand naby jou is wat dit nodig het. Dit is geld wat jy dus weggee vir ‘n goeie doel sonder om iets in ruil te kry. Dis ongelooflik om te sien dat, hoe meer jy gee sonder om iets terug te verwag, hoe meer het jy om te gee.

-Probeer spaar op maandlikse uitgawes, soos byvoorbeeld elektrisiteits- en waterverbruik en selfoon rekening.

-Maak tyd om deur jou huis te gaan, haal alles uit wat jy in die afgelope 6 maande/jaar nie gebruik het nie en hou ‘n straatverkope sodra die lockdown verby is. Of gee sommer net weg ook, al kry jy dan niks vir dit nie, help jy dalk net iemand wat minder as jy het.

-Kry jou hele gesin om saam te spaar en planne te maak, want dit help nie as jy mooi beplan en uitwerk, maar iemand anders in die huis spandeer onnodig of gebruik van jou beplande kosprodukte nie.

2. Aankope

-Doen die moeite om winskopies te soek en nie net by een winkel vas te haak nie.

-Soek ook produkte aanlyn (iewers sal ek voorstelle van sulke webtuistes gee).

-Moenie iets koop wat jy nie nodig het nie, al is dit ‘n GROOT winskopie.

-Koop in grootmaat net as jy gaan spaar en plek het.

-Probeer ander handelsmerk produkte koop as dit goedkoper is. Al het jy jou gunstelinge, probeer iets nuut. Bv koop aanmaak koeldrank en nie gaskoeldrank nie.

-Moenie honger gaan inkopies doen nie, dan koop jy agter honger aan en nie noodsaaklikheid nie.

-Moet verkieslik nie met onnodige kontant rondloop nie. Vat net soveel soos jy gaan nodig hê, want mens gee makliker uit as jy te veel kontant het of net jou kaart gebruik.

3. Kos

-Beplan jou etes en snacks, werk eetplanne uit vir ‘n week (hiermee sal ek ook help).

-Koop met ‘n lysie en bly by jou lysie ten alle tye. Selfs as jy aanlyn koop. Dit help jou om op begroting te bly en nie onnodige dinge te koop nie.

-Koop vrugte en groente wat in seisoen is en in jou omgewing verbou word.

-Snuffel die varsprodukte markte in jou omgewing uit.

-Onverwerkte vars groente is meer moeite, maar baie goedkoper.

-Baie gevriesde groente is goedkoper en net so goed soos die vars groente.

-Raak kreatief met oorskiet kos.

-Probeer om so min as moontlik weg te gooi, m.a.w. gebruik jou ou brood om broodkrummels te maak, vries gekneusde vrugte vir smoothies of souse.

-Eet minder, bly by jou plan en as jy tussenin honger voel, drink water, koffie of tee.

 
 
 

Comentarios


Teken in om al my post te ontvang:

©2020 by Pastorie Kombuis. Proudly created with Wix.com

bottom of page