top of page
Search

So, wie is ek en hoekom begin ek blog?

  • Writer: Nadia Muller
    Nadia Muller
  • Apr 27, 2020
  • 2 min read

Ek is ‘n dominee by die Simondium Familiekerk. Ek is ‘n mamma van twee pragtige dogtertjies, een wat alles eet en probeer en die ander een wat sommer net uit beginsel niks nuut wil eet nie. Ek is al 10 jaar getroud met ‘n wonderlike man, David Muller (#davidmullerza), wat my droom en passie vir die blog deel en help waar maak.


Ek het ‘n groot passie om gesond te leef, maar nie net wat kos en oefening aanbetref nie. Jesus sê in Johannes 10:10; “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Wat beteken dit? Ek en jy het net een lewe gekry. Leef jy dit oorvloedig? En hierdie “oorvloedig” is nou nie suikerbelaaide, olie-deurdrenkte kos wat jou tafels laat kreun of genoeg wyn om die hele nasie se dors te les nie.


Daar is so baie mense wat in die Lockdown tyd hul inkomstes gedeeltelik of selfs heeltemal verloor het. Buiten vir dit, sit meeste van ons by die huis met te veel tyd wat ons vul met kos en ander dinge. Ons lewens het skielik en drasties verander. Lank het ek gebid en vir die Here gevra hoe ek kan help en die droom van ‘n blog is gebore.


Hierdie blog is ‘n plek waar ek my passie met jou wil deel en hopelik iewers jou help om anders te dink oor kos, gesondheid en die lewe in geheel. Ek gaan stories, resepte, eetplanne en geld-spaar-metodes met jou deel. As ons in terme van kos en geld spaar in dieselfde asem dink, dink mens dadelik aan vinnige, maar heel dikwels baie ongesonde opsies en dit is nie nodig nie. As jy net anders begin dink en jou manier van kosmaak aanpas kan jy geld spaar én gesond eet. My droom is dat die blog jou sal help om die vervelige vraag, “wat eet ons vanaand?” in ‘n opwindende reis sal verander. Reis deur jou kombuiskaste, yskas en die winkelrakke waar jy dalk nie altyd kom nie.


Laastens hoop ek die blog help jou om ook holisties te dink oor gesond-wees en oorvloedig leef, soos Jesus dit vir ons droom!






 
 
 

Comments


Teken in om al my post te ontvang:

©2020 by Pastorie Kombuis. Proudly created with Wix.com

bottom of page