top of page
Search

Spaghetti Mushroonaise

  • Writer: Nadia Muller
    Nadia Muller
  • May 21, 2020
  • 3 min read

Prediker het ‘n punt beet as hy praat oor elke ding wat sy tyd het. Jy sal kan getuig van dinge wat met tyd verander, dinge wat se tyd uitgeloop het of dinge wat op spesifieke tyd begin het.

As mens gaan kyk na die natuur en al die ritmes en vaste tye van dinge, staan ek verstom oor hoe ongelooflik God se tydsberekening is met alles. Vat byvoorbeeld die seisoene; elke seisoen se temperature en klimaat is haarfyn deur God beplan. Hoekom waai die wind in Augustus? Om die laaste winter blare af te waai en plek te maak vir die bloeisels wat moet kom en al die nuwe blare wat moet spruit, om maar één voorbeeld te noem.

God se tyd verskil heel dikwels van my en jou tyd, maar net so vinnige kyk na die natuur sê vir jou God se tyd altyd die perfekte tyd is. Ons wil dinge baie keer aanjaag, of anders hê, maar God weet beter. Kom ons kyk na nog ‘n voorbeeld:

Groente en vrugte:

Daar is ‘n rede hoekom mens nie aarbeie in Junie koop nie, hulle is onbekostigbaar en gewoonlik smaakloos, want dit is nie hulle seisoen om te “blom” nie. Nou in die oploop tot die winter koop jy sitrus, appels, granadillas, koejawels en pere. Jy koop verskillende kole, bone, avokadopere, tamaties, sampioene, beet, seldery en soetrissies. Hoekom? Want dit is die vrugte en groente wat nóú in seisoen is. Kyk weer na die lys groente en vrugte wat ek nou genoem het - hulle almal besit vitamienes en minerale, soos Vitamiene C, om ons immuunstelsel ‘n hupstoot te gee in die koue maande, wanneer ons meer vatbaar is vir verkoues en griep. Nog so stukkie getuienis van God se goeie tydsberekening, of hoe?

Meng dan die groentes met die getroue slawe in jou kombuis soos: uie, aartappels en wortels en jy maak die lekkerste bredies en soppe vir daardie koue winter aande.

Die volgende resep is een so resep, wat die seisoen in ag neem, lekker goedkoop is om te maak en sommer vir ‘n verskeidenheid geregte gebruik kan word. Verby is die dae wat sampioene net as sop of sous gebruik kan word.


SPAGHETTI MUSHROONAISE

Bestanddele

125 ml goeie groente aftreksel

1 groot ui

2 medium wortels geskil en fyn gerasper

1 medium rooi soetrissie klein blokkies gesny (opsioneel)

250 g sampioene

410 g (1 blik) gesnyde en geskilde tamaties

of

3 medium tamaties geskil en gesny (skil die tamaties deur hul te blansjeer)

5 ml crushed garlic

of

2 vars knoffel huisies fyn gekap

10 ml gedroogde gemengde kruie, tensy jy lekker vars kruie het,

dan gebruik jy 20 ml.

Sout en peper na smaak

250 ml gaar lensies (opsioneel)

Metode

1. Sny jou ui lekker fyn en die sampioene onherkenbaar fyn. As jy ‘n voedselverwerker het, is dit baie vinniger. Jy soek amper die tekstuur van maalvleis.

2. In die plek van die gebruiklike olie gooi jy helfte van die groente aftreksel in ‘n pan en braai jou wortels, rooi soetrissie, uie en sampioene tot gaar en effe bruin, gooi dan die knoffel by en braai ‘n verdere 2 minute. As dit droog braai gooi net nog groente aftreksel by.

3. Gooi nou die tamaties en die geurmiddels by. Laat lekker prut tot jy elke geur kan ruik.

4. Nou kan jy die gaar lensies by gooi as jy wil. Dit maak die kos meer en gee ekstra tekstuur en proteïne - jy mis dan glad nie vleis nie. As jy nie sonder vleis kan nie, kan jy in die plek van lensies 500g ekstra lae-vet maalvleis gebruik wat jy saam met die uie mengsel braai.

5. Proe en pas die geurmiddels aan soos nodig. Jy kan speel met geure, gooi bietjie rissie of cayen pepper in as jy hou van ‘n byt.

Gebruike

· Bedien saam met spaghetti of enige pasta van jou keuse. Die sous is genoeg vir 4 volwassenes.

· Maak ‘n baie lekker vegetariese lasagne as jy dit gebruik en lae pak met eiervrug/lasagne velle en witsous.

· Bedien dit op ‘n heel gaar aartappel.

· Smeer as sous op pizza basis, en gooi dan net kaas oor.

· Dit vries baie goed, so verdubbel al die bestanddele en bêre vir ‘n volgende keer.

 
 
 

Comments


Teken in om al my post te ontvang:

©2020 by Pastorie Kombuis. Proudly created with Wix.com

bottom of page