top of page
Search

Die eenvoudige APPEL

  • Writer: Nadia Muller
    Nadia Muller
  • May 14, 2020
  • 3 min read

Groen of rooi, geel of pienk, appels, appels, appels…

Ons weet daar is ‘n gesegde wat lui: “’n appel ‘n dag laat die dokter wag”. Ek het die afgelope tyd weer besef hoe waardevol dié eenvoudige vrug is. Baie van ons koop dit uit gewoonte, ander vermy dit - want dit is té vervelig, maar ek hoop na die gedeelte sal jy ook opgewonde kan raak oor dié vrug.

Dit laat my aan iets anders dink...

Jy ken vir Gideon (Rigters 6), ‘n gewone outjie, niks besonders nie, maar as die engel van die Here hom ontmoet, dan sê hy vir Gideon: “Die Here is by jou, dapper man!”. Gideon het sekerlik oor sy skouer gekyk om te probeer vasstel met wie die man praat, maar daar was niemand anders nie. As mens dan Gideon se verhaal verder lees, sien mens dat dié gewone outjie toe uitdraai om ‘n baie brawe man te wees. Dis net soos die appel, eenvoudig en dalk oninteressant, maar met kreatiwiteit van die een wat die appel bewerk, verander dit in ‘n ongelooflike bestanddeel vir bak en brou. Jy dink dalk jy is ook net eenvoudig, niks spesiaal nie, nie ‘n uitblinker of iets besonders nie, maar in die regte Hande is jy ‘n ongelooflike deel van God se koninkryk. God het nie een van ons gemaak om sommer net ‘n plekhouer te wees nie, Hy het jou gemaak met eindelose potensiaal...

Nou eers weer terug by die appel. Hoeveel appels het jy al in jou leeftyd weggegooi omdat niemand dit geëet het nie en dit verrimpeld in die vrugtebak bly lê het? Hopelik sal jy met die idees en resepte wat volg dit nooit weer doen nie. Red daai appel voor dit vrot, gooi dit in die vrieskas tot jy genoeg het vir sous maak - alhoewel jy met een of tien appels kan sous maak.

Appelsous - Die eenvoudigste ding om te maak.

Vir hierdie resep is die beste appels die soeter tipe appels, soos die rooi, pienk of geel appels. Groen Granny Smith is te suur en vra vir te veel suiker en jy wil juis die appels gebruik om minder suiker te gebruik.

Bestanddele:

· Appels (soveel soos jy nodig het)

· Water – wat net die bodem van jou pot bedek.

· Heuning/suiker na smaak

· Kaneel (opsioneel)

Metode:

1. Skil die appels en verwyder die stronk. Ek verkies om die skil aan te los - dit gee meer voedingswaarde, maar moet dan effens langer kook en jy gaan dan ‘n goeie voedsel verwerker nodig hê om 'n gladde tekstuur te kry..

2. Sny die appels in stukke en plaas in jou pot.

3. Gooi genoeg water by om die bodem te bedek - dit keer dat die appels aanbrand.

4. Sit jou plaat op ’n medium tot hoë hitte, tot die water begin kook en draai dan laer. Roer gereeld.

5. Die kooktyd wissel afhangende van die hoeveelheid appels, watter soort appels en of jy die skille aanhou of nie. Die appels is gaar wanneer dit sag is en effe donkerder kleur kry. Jy kan dit gelukkig nie sommer oor-gaar maak nie. Gooi kort, kort bietjie water by sodat dit nooit droog kook nie.

6. As die appels gaar is haal dit van die stoof af en laat dit effens afkoel.

7. Gebruik nou ‘n voedselverwerker, “smoothie maker” of “stick blender” om dit te verpulp. Maak egter seker dat daar nie te veel onnodige water is nie en gooi dan liewer bietjie by as die sous te droog of dik is. Die dikte hang van jouself af, maar dit moet verkieslik soos 'n dik vla of yogurt wees.

8. Gooi laastens die geurmiddels by.

9. Die appelsous kan gevries word, vir later gebruik, of in die yskas gestoor word.

Gebruike:

· Dit is ‘n goeie begin-kos vir babas wat begin vaste kos eet. Dit is ’n baie gesonde en goedkoper opsie as die gekoopte gelyke.

· Appelsous kan as plaasvervanger vir baie bestanddele gebruik word as jy bak. Die hoeveelhede verskil van resep tot resep, want dit hang ook af hoe loperig jou sous is.

1 koppie olie - ¾-1 koppie appelsous

1 kop botter - ½-1 kop appelsous

· Meng dit met grondboontjiebotter en oats vir ‘n lekker tuisgemaakte oond-geroosterde granola (ek sal later ‘n resep hiervan plaas).

· Meng dit met oats en stoor dit oornag in die yskas vir ‘n vinnige “on-the-go” ontbyt.

· Meng dit met sodawater en kruisement blare vir ‘n verfrissende drankie.

· Gebruik dit om kerries of ander kosse soeter te maak in die plek van suiker.

As jy bietjie gaan soek is daar legio gebruike vir appelsous. So, gaan koop appels, en raak kreatief. Die bonus is: appels is ‘n goedkoop vrug, so dit breek nie jou sak nie, maar kan dalk jou ongesonde gewoontes breek.

So is die dood gewone eenvoudige appel toe al die tyd ‘n brawe lewensredder...

 
 
 

2 Comments


Nadia Muller
Nadia Muller
May 14, 2020

Ek is bly as jy iets geleer het. Dit is 'n lekker gesonde inruil. My volgende post gaan muesli wees wat appelsous gebruik om dit te versoet en in die plek van die gebruiklike botter of olie.

Like

beadsinbloom
May 14, 2020

Dankie, Nadia. Daar leer ek vandag iets!! Gaan verseker die vervangingsopsie probeer!! Waardeer dit baie!!

Like

Teken in om al my post te ontvang:

©2020 by Pastorie Kombuis. Proudly created with Wix.com

bottom of page